Bergrivier Besproeiing

In ‘n land van waterskaarste is dit baie belangrik om die regte vennoot te kies vir die ontwikkeling van besproeiingskemas, aangesien die regte gebruik van water vir voedselproduksie van kardinale belang is.
Bergrivier Besproeiing in die Paarl kan met reg beskou word as ’n uitstekende vennoot om die ekonomiese verbruik van enige waterbron doeltreffend en tot sy volle kapasiteit te ontwerp, die dienste daarvoor te verskaf, dit te ontwikkel en te onderhou.
Die maatskappy wat al sedert 1989 in die Paarl gesetel is, beskik oor die regte kennis, infrastruktuur en mense met die nodige passie om enige waterontwikkeling in die landbou en kommersieële sektore suksevol te bestuur.
Onder die sewe tegniese personeellede wat skemas en ontwikkelings ontwerp en bestuur, is drie siviele ingenieurs (mnre. Stephan Naudé, 29 jaar ; Johan Everson 18 jaar en JB Joubert 5 jaar), ’n meganiese ingenieur (Gerrie van Zyl 17 jaar), ’n landbou-ingenieur (NJ Hand 5 jaar) en twee tegniese ingenieurs (mnre. Capie van Rensburg 17 jaar en Chris Marais 28 jaar).
Saam beskik hulle oor meer as 100 jaar se ervaring op uiteenlopende gebiede rakende besproeiing, en is daar haas geen waterontwikkeling wat die maatskappy nie kan aanpak nie.
Bergrivier Besproeiing het reeds baie vermag in sy veld en beskik oor ‘n prestasie-geskiedenis wat getuig van sy professionele diens en tevredenheid by sy kliënte.
Hierdie hoogs gekwalifiseerde en doeltreffende tegniese span maak gebruik van ’n goed gevestigde infrastruktuur en ‘n puik georganiseerde en goed gemotiveerde personeel van 19 mense.
Hulle verseker dat die beste gehalte-materiaal op die regte tyd vir die skemas verskaf word. (Die volledige voorraad materiaal wat op die perseel gehou word, behels die hele spektrum van besproeiing.)
Die span sien ook toe dat daar altyd genoeg voorraad beskikbaar is vir die uiters belangrike nasorgdiens wat dag en nag vir die kliënte beskikbaar is. Boonop beskik Bergrivier Besproeiing oor 'n aflweringsdiens en word materiaal tot op die plaas gelewer.
